ALGEMENE VRAE

Met watter lugredery vlieg ons?

Ons vlieg hoofsaaklik met Air France en Emirates.  In ons opinie van die beste lugrederye tusssen SA en Europa.


Hoeveel beloop lughawebelasting?

Lughawebelasting (wat ook ‘n brandstofheffing insluit) word in Amerikaanse dollar bereken. Daarom hang dit af van die olieprys en wisselkoers en gevolglik verander dit van dag tot dag. In 2013 was die belasting ongeveer R5 300. Ons betaal dié belasting met die aankoop van die vliegkaartjies en is dan afgehandel.  Vir 2017 beraam ons ongeveer R6 000. Maar, dit is reeds ingesluit by u toerprys, soos aangedui op die inskrywingsvorm.


Wat van al die vreemde geld?

Ons gee u breedvoerig raad oor reisigerstjeks, kredietkaarte, wisselkoerse en belastings.


Wat van visums?

Op grond van wetgewing deur die Europese Unie, mag ons nie meer namens u aansoek doen vir visums nie. Ons gee u volledige voorligting met die invul van die aansoekvorms en voorsien u van al die nodige dokumentasie en inligting vir u aansoek. 


Kan ons aansluitingsvlugte van die Kaap of Natal na Johannesburg kry?

U kan dit gewoonlik goedkoper self reël as wat ons dit kan kry.  Soms kan ons vir u die vlugte bespreek.  Met Emirates kan ons soms direkte vlugte vanaf Kaapstad en Durban kry.


Waarom is julle prys heelwat laer as ander toere?

Ons probeer om ons oorhoofse kostes en winsgrens so laag as moontlik te hou.  Ons skakel so ver moontlik die middelman uit en beding self vir die beste pryse.  Ons leuse is steeds: “Bekostigbare,kwaliteit Europese Toere!”


Hoe lank is julle al betrokke in buitelandse toere?

Meer as 20 jaar.

 

Kan senior burgers saam toer?

As u gesond is, en in staat is om so twee tot drie kilometer te stap en self vir u tas (wat nie te swaar mag wees nie) te sorg, kan u saam kom.  Daar was al gesonde, fikse persone van 70 en ouer saam met ons.  Persone ouer as 75 moet verkieslik vergesel word van ‘n jonger kamermaat wat na u kan omsien.


Sal ek nie verdwaal in die vreemde nie?

Ons maak seker dat almal aan boord is voordat die bus vertrek.  U kry ook ‘n kaartjie met elke hotel se naam, adres en telefoonnommer.


Wat van fooitjies?

Fooitjies vir kelners is opsioneel, maar dit is gebruiklik om ten minste ‘n fooitjie van 10% van jou rekening as fooitjie te gee. 

‘n Eenmalige fooitjie van €20 per persoon vir die busbestuurder.


Hoe raak die veranderende wisselkoers die toerprys?

Die toerprys word bepaal deur die prys van die vliegkaartjie en die wisselkoers van die Rand teenoor die Euro. As die Euro verhandel tussen die grense soos aangedui by elke toer bly die toerprys onveranderd. Buite hierdie grense sal die toerprys met ongeveer R100 per 10 sent verandering in die wisselkoers aangepas word.


Hoe verskil julle van ander toermaatskappye?

Eerstens is ons ‘n Afrikaanssprekende organisasie. Die voertaal op die toer is Afrikaans. U toergids praat Afrikaans, behalwe as ons in uitsonderlike gevalle ‘n plaaslike toergids vir ‘n uur of twee gebruik.

Ons ontmoet u in Johannesburg. U is onder die sorg van u toergids vanaf Johannesburg tot weer in Johannesburg. U hoef nie op eie koste sonder hulp te sukkel tot in London of elders nie. U hoef ook nie ekstra kostes aan te gaan vir ‘n hotel voor en na die toer nie.

Ons toerlede is uitsluitlik Suid Afrikaners en meer as 90% praat Afrikaans.

Ons sorg dat u elke dag twee etes kry (ingesluit by u toerprys). U hoef nie saans in die vreemde rond te val om ‘n duur eetplek te kry nie. Hoogstens sal ons u een of twee aande vra om u eie keuse uit te oefen.

Kry gerus by u reisagent van die glansbrosjures en vergelyk dit met wat ons u bied.

Ons sien onsself as die klein winkeltjie op die platteland waar jy die eienaar op sy voornaam ken en jy sy huistelefoon het, sodat jy hom saans kan skakel as jy ‘n probleem het.

Persoonlike diens is ons strewe.

Skakel gerus een of meer van ons vorige toerlede as u enigsins twyfel. Lys van toerlede beskikbaar op aanvraag.


Hotelle

Ons gebruik deurgaans hotelle van ‘n baie goeie standaard. In die stede gebruik ons gewoonlik driester (of beter) hotelle en in die platteland familie hotelle wat ons al vir baie jare ken. Alle kamers het ‘n eie badkamer met minstens ‘n stort, wasbak en toilet.

As u gelukkig is kry u dalk ‘n kamer met ‘n balkon wat uitkyk op die see, meer, berg of rivier. Van die hotelle is toegerus met televisie, yskaskroegies en haardroërs.

Aandetes is altyd ‘n driegang aandete met ‘n voorgereg, hoofgereg en nagereg. Drankies is opsioneel vir u eie sak. Ook koffie of tee, behalwe tydens ontbyt.

Ontbyt is in die meeste gevalle ‘n Europese buffetontbyt met graankos, ‘n verskeidenheid brood, kaas, konfyt, koue vleis en koffie of tee. Soms is daar gekookte of roereiers met spek.

As u enigsins wonder kan u gerus van ons vorige toerlede skakel. Vra ons gerus vir ‘n naamlys of lees hulle kommentaar by “Terugvoer“.

WIL U IETS WEET?

U kan ons gerus direk skakel op 087 170 0714

of stuur ons 'n e-pos na tjtoere@jenny.co.za.


U kan ook hieronder u e-pos adres en telefoonnommer insit en ons skakel u dan terug.

E-pos* Required field!
Telefoonnommer Required field!

Volg ons op Facebook

Powered by

Your cart is empty Continue
Shopping Cart
Subtotal:
Discount 
Discount 
View Details
- +
Sold Out